Beste mensdom,

Ek moet erken dit voel vreemd om die brief aan jou te skryf. Briewe word gewoonlik gerig aan ʼn individu of ʼn beperkte groep mense. Dit is ongewoon om aan die mensdom in sy geheel te skryf. Daar is nie eens ʼn spesifieke posadres nie en ek twyfel of jy veel korrespondensie kry. Nogtans het ek gedink dit is tyd dat ek skryf.

Natuurlik besef ek dat ek jou nie volkome kan bereik nie – juis omdat die mensdom nie slegs bestaan uit hulle wat nou lewe nie, maar ook uit hulle wat in die verlede geleef het. Dit is om en by 107 biljoen mense. En dan is daar al die ander wat nog gebore moet word – hopelik is daar baie van hulle. Ek kom later terug daarnatoe, maar voordat ons oor die toekoms praat, wil ek graag terugkyk op die verlede.

Liewe mensdom, ons het ʼn ver pad gestap.

Geen ander diersoort het so ʼn groot invloed op sy omgewing gehad as jy nie. Dit strek tot sover terug as R200,000 jaar gelede. Op daardie stadium was daar geen Nobelprys vir die briljante idee om diervelle te gebruik om warm te bly, of om vuur te maak of die swaard of die skoen uit te vind nie. Dit was alles buitengewoon slim uitvindings, wat jou nie net in staat gestel het om in jou natuurlike, wilde habitat te oorleef nie, maar ook om dit te beheer en aan te pas by jou behoeftes.

Mense was nie altyd so magtig nie. Vir ʼn baie lang tyd was mense gemarginaliseerd en doodgewoon, iewers in die middel van die voedselketting met dieselfde mate van beheer oor die omgewing as gorillas, vlinders, en jellievisse. Mense het hoofsaaklik aan die lewe gebly deur plante te versamel, insekte te vang, klein diertjies te jag en die karkasse wat agtergelaat is deur sterker roofdiere, te eet. Boonop het mense in konstante vrees gelewe t.o.v. laasgenoemde.

Het jy geweet daar is ʼn groter genetiese variasie in die gemiddelde sjimpansee trop as onder die 7 biljoen mense wat vandag op die aarde leef. Navorsers glo dat dit is omdat die mensdom eens op ʼn tyd byna uitgewis is en dat die totale hedendaagse menslike populasie afstam van slegs ʼn paar oorlewendes. Dit dwing mens om nederig te word. Om die waarheid te sê, dit is eintlik ʼn wonderwerk dat ons hoegenaamd hier is.

Fisies gesproke is mense verassend broos in vergelyking met baie ander diere. Watter ander dier kom die wêreld naak, skreeuend en relatief hulpeloos binne en is maklike prooi vir enige ander roofdier in die omgewing? ʼn Nuutgebore lammetjie kan binne ʼn paar uur loop, terwyl ʼn kind omtrent ʼn jaar neem voordat hy op sy twee voete kan staan. Ander diere het spesifieke sintuie, organe en reflekse wat hulle in staat stel om in spesifieke omgewings te oorleef, maar die mense is nie natuurlik toegerus vir enige spesifieke habitat nie. Tog is hierdie sogenaamde swakheid ook ʼn sterk punt wat jou in staat stel om vanaf die woestyn na die Noordpool, of die vloer van die oseaan of die maan te versprei! Dit is ʼn unieke prestasie.

Sommige mense dink selfs dat die mens verder as die aarde behoort te gaan en in die heelal moet voortplant. Opsigself is dit ʼn goeie idee, al is dit net om eendag te oorleef as ʼn reuse meteoriet die planeet tref. Dit sal ʼn jammerte wees. Om egter eerlik te wees, ek dink dis ʼn bietjie vroeg om skuiling in ander wêrelddele te soek. Kom ons probeer eers ʼn paar kwessies op ons tuisplaneet uitsorteer. Want dit is natuurlik so dat jou teenwoordigheid op die aarde probleme veroorsaak het. Probleme soos aardverwarming, ontbossing, plastiek in die oseane, bestraling en ʼn afname in biodiversiteit. Dit is genoeg om enige iemand depressief te maak. Dit lyk soms asof die mens meer skade as goed doen!

Ek kry dikwels te doen met mense wat glo dat die planeet beter daaraan sou toe wees, as mense nie hier was nie. Ek hoop nie ek gee aanstoot nie, liewe mensdom, maar ek voel verplig om aan jou te sê daar sekeres onder ons is wat jou wantrou, wat jou verag of wat nie van jou hou nie, omdat hulle glo jy is besig om die planeet te ruïneer. Ek wil egter vinnig byvoeg dat ek nie self een is nie. Ek het nog altyd gesukkel om sodanige mensehaat te verstaan, omdat dit uiteindelik ʼn vorm van selfhaat is.

Vanwaar die wantroue in die mensdom? Deur verdere ondersoek het ek ontdek dat die wat so voel, ʼn spesifieke beeld van die mensdom het wat gewoonlik totaal verwronge en foutief is. Hulle sien die mensdom as teen-natuurlik, ʼn spesie wat nie werklik hoort in die romantiese, pragtige en harmonieuse natuurskoon nie. Ek glo dat hierdie ʼn vorm van naïewe vooroordeel is wat ons verhoed om vorentoe te beweeg. Ons moet so gou moontlik daarvan ontslae raak. Ten einde die idee te verstaan, moet ons begin by die begin.

Die aarde het meer as sowat 4.5 biljoen jaar tot stand gekom. In die begin was dit niks meer as ʼn geïsoleerde rots in die heelal nie en dit het meer as ʼn biljoen jaar geneem voordat die aarde se biosfeer begin vorm aanneem het. Na dit het dit omtrent ʼn verdere 2 biljoen jaar geneem voordat die eerste veelsellige plante onstaan het. Gedurende die Kambriese ontploffing, ʼn verdere biljoen jaar later het ʼn totaal nuwe lewensvorm op die aarde verskyn: diere.

Die eerste diere het sowat 500 miljoen jaar gelede op die toneel verskyn. Ons weet nie hoe plante, wat toe reeds vir ʼn biljoen jaar in die omgewing was, gevoel het oor die feit dat diere op die toneel verskyn het nie. Soos julle weet, wil plante in vrede gelaat word; hulle beweeg nie veel nie en hulle kry voeding van die son en uit die grond. Aangesien ek nie met plante kan praat nie, weet ek nie wat hulle dink nie, maar dit is nie totaal onmoontlik dat hulle dit woes en ongemaklik gevind het om met diere te doen te hê nie. Miskien het hulle diere selfs as oneties beskou, nie net omdat mense fundamenteel immoreel was en teen ʼn ongelooflike vinnige pas geleef het nie, maar ook omdat hulle in daardie jare iets totaal ongehoord, nuut en afskuwelik gedoen het: diere het plante geëet.

Alles inaggenome kon die aankoms van diere nie maklik vir plante gewees het nie. Ewolusie gaan egter voort en terwyl ʼn aardbol wat hoofsaaklik uit plante bestaan het heel goed was, was dit ook ʼn bietjie vervelig, of ten minste minder opwindend as een wat ook uit diere bestaan het (Ek spaar jou eerder ʼn beskrywing van hoe dit was toe daar geen plante was nie, maar slegs rotse. Dit was nog meer vervelig).

So kom ons gaan terug na die rol van die mensdom. Net soos wat die koms van diere die wêreld van plante geskud het, het mense se koms ook probleme veroorsaak. Onthou, die mensdom het slegs so pas gearriveer. Diere was 2,000 keer langer as mense teenwoordig op aarde en eenvoudige plantlewe 7,000 keer so lank. Ek sê dit egter nie om jou nederig te maak nie, want ek dink die mensdom is merkwaardig.

Alhoewel jy fundamenteel lid is van die dierespesie, is daar egter iets unieks rondom jou. Dit het in ʼn mindere mate te doen met jou fisiese bou – iets waarmee ek nie vreeslik beïndruk is nie – en in ʼn meerdere mate met jou inherente geneigdheid om tegnologie te gebruik. Hoewel ander diersoorte hul omgewings ywerig transformeer – dink byvoorbeeld aan bewers se huisies en miershope – doen niemand van hulle dit op so ʼn radikale wyse as die mens nie. Ek gebruik die woord “tegnologie” in die breedste sin: met “tegnologie” bedoel ek al die wyses waarop die mensdom se denke die wêreld rondom ons beïnvloed het – klere, gereedskap en motors, maar ook paaie, stede, die alfabet, digitale netwerke en selfs multinasionale maatskappye en die finansiële sisteem.

Sedert jou ontstaan het jy tegnologiese stelsels gebou om jouself te bevry van die moedswillige kragte van die natuur. Dit het begin met ʼn dak oor jou kop wat jou teen ʼn storm beskerm het en het al die pad voortgeduur tot by moderne medisyne wat dodelike siektes behandel. Jy is van nature tegnologies ingestel. Maar soos ʼn vis wat nie weet dat dit in die water swem nie, is jy geneig om die mate waarmee jou lewe intiem vervleg is met tegnologie en wat dit vir jou beteken het, te onderskat. Kyk byvoorbeeld na lewensverwagting. Aan die begin van jou bestaan kon die gemiddelde mens nie verwag om ouer te word as 30 nie. Dit was deels as gevolg van hoë kindersterftesyfers. Jy kon jouself gelukkig ad indien jy lank genoeg geleef het om voort te plant. Vanuit Moeder Natuur se perspektief is dit heeltemal normaal. As jy twee eende met ʼn dosyn klein eendjies agter hulle aan sien swem in die lente, behoort jy nie verras te wees as daar teen die einde van die somer slegs twee, of met ʼn bietjie geluk drie oor nie.

Tegnologie is deel van ons, op dieselfde manier as wat bye en blomme ontwikkel het om interafhanklik van mekaar te wees. Soos wat bye nektar versamel, help hulle blomme om voort te plant deur hulle saad te versprei. Mense is afhanklik van tegnologie en omgekeerd. Tegnologie het ons nodig om te vermeerder en voort te plant. En wat ʼn hulp was die mensdom nie in die verband nie! Tegnologie is so alomteenwoordig op ons planeet dat dit ʼn nuwe omgewing en opset ingelui het, waar alle lewe op aarde getransformeer word. ʼn Tegnosfeer – ʼn ekologie van interaktiewe tegnologieë wat ontwikkel het na jou koms – het ontwikkel bo-op die bestaande biosfeer. Die impak daarvan op aarde kan nouliks onderskat word en is vergelykbaar met, en dalk selfs groter as die ontstaan van diere 500 miljoen jaar gelede.

Vanuit ʼn ewolusionêre oogpunt is dit alles normaal. Die natuur bou altyd voort op bestaande vlakke van kompleksiteit: biologie bou voort op chemie, kognisie bou voort op biologie, rekenkunde bou voort op kognisie. Ek kan aan geen ander spesie dink, wie se teenwoordigheid ʼn totaal nuwe ewolusionêre fase ingelui het en wat weggebreek het van ʼn evolusie van biljoene jare wat op DNS-, geen- en koolstofverbinding gebaseer is nie.
Net soos DNS uit RNS ontstaan het, het jou optrede ʼn sprong na ʼn nie-genetiese evolusie in nuwe materiaal soos silikoonskyfies moontlik gemaak. Hoewel dit nie bewustelik was nie, het dit nogtans gevolge gehad. Jou teenwoordigheid het die aarde so fundamenteel getransformeer dat die impak jare van nou af steeds sigbaar sal wees. Dit is te danke aan jou toedoen, maar tot nog toe het jy dit skaars besef, wat nog te sê standpunt daaroor ingeneem.

Nou verstaan ek dat dit geen eenvoudige taak is nie, juis omdat die mensdom nie uit ʼn enkele denkende wese bestaan nie, maar uit ʼn wriemelende mengelmoes van biljoene individue, almal met hulle eie denke, behoeftes en begeertes. Daarby is hulle nie biologies toegerus om op ʼn grootskaalse planetêre vlak te dink nie. Nogtans blyk dit die mees belangrike saak van die oomblik te wees. Jy staan voor ʼn kruispad. En dit is hoekom ek aan jou skryf.

Met betrekking tot die toekoms sien ek twee moontlike paaie waarvolgens jy ʼn gelyktydige ewolusionêre verhouding met tegnologie mag ontwikkel: die droompad en die nagmerrie-pad. Kom ons begin by die nagmerrie. Elke gelyktydige ewolusionêre verhouding – of dit tussen die bytjies en die blommetjies of tussen mense en tegnologie is – het die risiko dat dit parasities kan raak. Parasitiese verhoudings, in teenstelling met simbiotiese verhoudings, kom wederkerigheid kort. ʼn Bloedsuier, ʼn lintwurm of ʼn koekoek gee niks terug aan sy gasheer nie, dit vat net. Kan die spanning wat ons aanvoel rondom tegnologie iets daarmee te doen hê? Ten spyte van die feit dat ons tegnologie sedert toeka se tyd gebruik omdat dit ons dien en ons vermoëns uitbrei, loop die mens die gevaar om diegene te raak wat tegnologie dien, om ʼn middel eerder as ʼn doel te raak en om tegnologie se gasheer te word. ʼn Voorbeeld is reeds te sien in die farmaseutiese sfeer. Medikasie is ongetwyfeld ʼn lewensreddende tegnologie. Wanneer farmaseutiese maatskappye egter probeer om hulle eie winste te maksimeer deur almal wat op enige manier van ʼn statistiese gemiddelde afwyk te oortuig dat hy of sy ʼn versteuring het en gepaste medikasie nodig het, moet ons vra of dit die mensdom dien en of dit slegs die behoeftes van die industrie en sy aandeelhouers bevredig.

Waar presies is die grens tussen tegnologie wat die mensdom dien en tegnologie wat ons beperk en van ons inherente potensiaal beroof? Die uiteindelike bedreiging is dat jy, die mensdom, uiteindelik niks meer is as die geslagsorgaan wat deur ʼn groter tegnologiese organisme benodig word, ten einde voort te plant en te versprei nie. Lewensvorme wat vasgevang is binne groter lewensvorme kan elders in die natuur gevind word: dink byvoorbeeld aan ingewandsbakterieë wat verskeie nuttige funksies verrig in ons liggame. Gaan ons binnekort niks meer as mikrobes in die maag van ʼn tegnologiese monster wees nie? By daardie punt, sal die mensdom nie meer ʼn doel wees nie, maar ʼn middel. En ek sien dit nie as wenslik nie, want ek is ʼn persoon en ek speel vir die span van die mensdom.

Nou vir die droom.

Die droom is dat jy wakkerword en besef dat menswees nie ʼn eindpunt is nie, maar ʼn proses. Tegnologie verander nie net ons omgewing nie, uiteindelik verander dit ons. Die veranderinge wat kom sal jou in staat stel om meer mens as tevore te wees. Wat as ons tegnologie gebruik om ons beste menslike kwaliteite te vergroot en om ons te ondersteun in ons swakhede?

By gebrek aan ʼn beter woord kan ons kan sulke tegnologie menslik noem. Menslike tegnologie sal menslike behoeftes as beginpunt neem. Dit sal op ons sterk punte voortbou eerder as wat dit ons oorbodig sal maak. Dit sal ons sintuie uitbrei, eerder as om dit te af te stomp. Dit sal ingestel wees op ons instinkte; dit sal natuurlik voel. Menslike tegnologie sal nie net individue dien nie, maar in die eerste plek ook die mensdom as ʼn geheel. En die laaste, maar nie die minste nie, sal dit die drome wat ons as mense oor onsself het, laat realiseer.

So waarvan droom jy? Om te vlieg soos ʼn voël? Om op die maan te woon? Om soos ʼn dolfyn te swem? Om deur sonar te kommunikeer? Om telepaties te verkeer met jou geliefdes? Van gelykheid tussen die twee geslagte en tussen rasse? Van empatie as sesde sintuig? ʼn Huis wat saam met jou familie sal groei? Wil jy langer leef? Miskien kan jy vir altyd leef?

Luister mensdom: jy was eens ʼn relatief onbelangrike spesie, maar jou kinderdae is verby. Te danke aan jou vindingrykheid en skeppingskrag, het jy jouself uit die modder gelig. Jy het ʼn ewolusionêre katalisator geword wat die aarde se oppervlak transformeer. Die proses is nie afgehandel nie. Jy is ʼn skakel tussen die biosfeer waaruit jy ontstaan het en die tegnosfeer wat na jou koms ontwikkel het. Jou gedrag beïnvloed nie net jou eie toekoms nie, maar die planeet as ʼn geheel, asook al die ander spesies daarop. Dit is ʼn groot verantwoordelikheid.

As jy nie dink dat jy toegerus is daarvoor nie, moes jy in jou grot gebly het. Maar dis nie jou styl nie. Jy is sedert jou geboorte tegnologies ingestel. Die drang om terug te kom in die natuur is net so verstaanbaar as wat dit onmoontlik is. Dit sal nie net lafhartig wees in terme van die onbekende nie, dit sal ook jou mensheid ontken. Dit is onmoontlik om aan die toekoms van die mensdom te dink sonder om aan die toekoms van tegnologie te dink. Jy moet vorentoe beweeg – al het jy sopas hier gearriveer. Jy is ʼn tiener, maar dit is tyd om groot te word. Tegnologie is die mens se selfportret. Dit is die materialisasie van menslike vindingrykheid in die fisiese wêreld. Kom ons maak ʼn kunswerk daarvan waarop ons trots kan wees. Kom ons gebruik tegnologie om ʼn meer natuurlike wêreld te bou en om ʼn pad na die toekoms te karteer wat nie net vir die mensdom werk nie, maar vir al die ander spesies, die planeet en uiteindelik die heelal as ʼn geheel.

Ter afsluiting wil ek jou graag iets vra. Ek wil graag elkeen van julle uitnooi – die wat lewend is en die wat nog gebore moet word, op aarde en elders – om een maklike vraag te vra rondom elke tegnologiese verandering wat in jou lewe gebeur: verbeter dit my menslikheid?

Die antwoord sal gewoonlik nie swart of wit, ja of nee wees nie. Meesal sal dit iets wees soos 60 persent ja, 40 persent nee. En jy sal somtyds van ander mense verskil en nodig hê om oor die saak te debatteer voordat julle ʼn ooreenkoms kan bereik. Maar dit is goed. As ons almal op konsekwente wyse kies vir tegnologie wat ons menslikheid verbeter, weet ek jy sal goed af wees. Hoe? Dit sal ons nog moet sien. Niemand weet hoe mense binne ʼn miljoen jaar van nou af sal wees en selfs of daar mense sal wees en indien wel, of ek hulle sal herken as mense nie. Sal ons inplantings aanvaar? Ons DNS herprogrammeer? Die grootte van die menslike brein verdubbel? Telepaties kommunikeer? Vlerke ontwikkel? Ek weet nie en ek kan nie weet nie. Maar my hoop is dat daar binne ʼn miljoen jaar steeds iets soos die menslikheid sal wees. Want solank menslikheid bestaan, sal daar mense wees.

Uit my hart as nederige, onvolmaakte mens, wens ek jou geluk, liefde en ʼn lang, opwindende reis toe.

Met die verwagting dat jy triljoene meer mense sal voortbring, alles van die beste.

Koert van Mensvoort

Ns. Nota aan die individuele leser: Nadat jy die brief gelees het, deel dit asseblief met jou medemens. As jy graag meer wil hê, kan jy dit fotostateer, vertaal, herdruk en verder versprei. Die mensdom is almal van ons.